Welkom by Noordwes RPO

Druk op hierdie skakel op die pamflet af te trek : NWRPO - Jou Vennoot in die Rooivleisbedryf!

DIE NWRPO JOU VENNOOT IN DIE ROOIVLEISBEDRYF

Die Noordwes Rooivleisprodusente Organisasie is ʼn diensorganisasie wat optree as spreekbuis vir die kommersiële Rooivleisprodusent in die Noordwes Provinsie en is geaffilieer by die Nasionale Rooivleisprodusente Organisasie. Die NWRPO werk aktief aan die totstandkoming van 'n bemagtigende produksie omgewing waarbinne volhoubare en winsgewende Rooivleisbedryf in die Provinsie  verseker kan word.

STRATEGIESE DOEL EN AKTIWITEITE

Die NWRPO poog voortdurend om in samewerking met die Nasionale RPO die belange van kommersiële Rooivleisprodusente binne die waardeketting van die Rooivleisbedryf te beskerm en te bevorder en om as kollektiewe bedingingsorganisasie die ekonomiese welvaart van sy lede te verbeter. Daar word gefokus op belangrike bedryfstake soos:

  • Tariefbeskerming;
  • Uitvoerbevordering;
  • Internasionale ooreenkomste;
  • Voorligting en Dieregesondheid;
  • Onderhandelings ten opsigte van wetlike raamwerke;
  • Bevordering van die ekonomiese posisie van produsente en stabiliteit in die bedryf;
  • Die stel van produsente belange en sake by owerheids- en nie-owerheidsinstansies;
  • Vestiging en bevordering van ʼn positiewe beeld van die produk en bedryf;
  • Predasiebestuur;
  • Veediefstalbekamping en voorkoming;
  • Bedinging en verlaging van inset- en bemarkingskoste;
  • Inligting oor produksiestelsels;
  • Markinligting.

RPO INSPRAAK EN DEELNAME AAN STRUKTURE

Die RPO het direkte skakeling, verteenwoordiging en inspraak by onder andere die volgende belangrike instansies om die  belange van Rooivleisprodusente te beskerm en te bevorder:

  • Nasionale Landbou Bemarkingsraad ( NLBR)
  • Nasionale Landbou Navorsingsforum (NARF)
  • Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP)
  • Onderstepoort Veterinêre Instituut  (ARC-OVI)
  • Suid- Afrikaanse Wildorganisasie (SAWO)
  • Nasionale Veediefstalforum
  • Georganiseerde Landbou Organisasies
  • Agri SA Bedryfskamer
  • Lewendehawe Produsente Organisasie Namibië (LPO)
  • Probleemdierbeleidskomitee
  • Telersgenootskappe
  • Nasionale en Provinsiale Staatsdepartemente
  • Opleidings instellings
  • Koördinerende Komitee vir die Welsyn van Lewendehawe (LWCC)
  • Rooivleisbedryfstrust projek- en beplanningskomitee (RMRDT)

Die RPO verteenwoordig rooivleisprodusente belange in die Vleisbedryfsforum wat  alle instansies betrokke by die volle waardeketting van die Rooivleisbedryf verteenwoordig en is saamgestel uit die volgende rolspelers:

  • SA Varkvleisprodusente-Organisasie (SAVPO)
  • Rooivleis Abattoirsvereniging (RVAV)
  • SA Voerkraalvereniging (SAFA)
  • SA Federasie van Lewendehawe- en Vleismakelaars (SAFLA)
  • Nasionale Federasie van Vleishandelaars (NFMT)
  • SA Vleisprosesseerders (SAMPA)
  • SA Nasionale Verbruikersunie (SANCU)
  • Assosiasie vir Vleisinvoerders- en uitvoerders (AMIE)
  • Huide, Leer en Velle (SHALC)
  • National Emerging Red Meat Producers Organisation (NERPO)
  • South African Meat Distributors and Allied Workers Union (SAMDAWU)
  • RPO Grootvee
  • RPO Kleinvee

Die RPO tesame met NERPO vorm die Federasie van Rooivleisprodusente van Suid-Afrika.  Die Federasie hanteer die kollektiewe belange van primêre kommersiële- en opkomende Rooivleisprodusente.

FINANSIERING VAN NOODSAAKLIKE FUNKSIES IN DIE ROOIVLEISBEDRYF

Krities belangrike funksies vir die oorlewing en welvaart van primêre produsente en die Rooivleisbedryf word befonds uit twee afsonderlike bronne van finansiering naamlik die Statutêre Heffing en die Vrywillige Produsente Heffing.

WAAROM 'N STATUTêRE HEFFING?

Die Statutêre  Heffing is ingestel binne die raamwerk van die Nasionale Landbou Bemarkingsraad en  word uitsluitlik aangewend om die volgende funksies in belang van die Rooivleisbedryf te befonds:

  • Verbruikersekuriteit (voedselveiligheid)
  • Verbruikerskommunikasie en opvoeding (bemarking)
  • Produknavorsing en ontwikkeling
  • Bedryfskakeling
  • Ontwikkeling van Opkomende Sektor
  • Produksie-ontwikkeling en Bedryfsprojekte

UITEENSETTING VAN DIE STATUTêRE HEFFING

Geldig vanaf November 2010 tot November 2013:

Beeste: 

  • R3.87 per kop word vanaf die verkoper verhaal en aan die koper oorbetaal by alle transaksies.
  • R6.45 per kop word by die verslagtingspunt deur die persoon wat die dier aanbied vir verslagting betaal.
  • ʼn Permit vir beesvleis-invoere sal R720 kos, terwyl lewendehawe-agente 0.07 persent van hul     kommissie aan heffings sal moet betaal.

Skape:

  • R0.83 per kop word vanaf die verkoper verhaal en aan die koper oorbetaal by alle transaksies.
  • R1.25 per kop word by die verslagtingspunt deur die persoon wat die dier aanbied vir verslagting betaal.
  • ʼn Permit vir skaapvleis-invoere sal R720 kos, terwyl lewendehawe-agente 0.07 persent van hul   kommissie aan heffings sal moet betaal.

Eskalasie geldig vanaf 2014 vir een jaar:

Die heffing sal na die derde jaar van die heffingsperiode eskaleer na:

Beeste:

  • R4.26 per kop word vanaf die verkoper verhaal en aan die koper oorbetaal by alle transaksies.
  • R7.10 per kop word by die verslagtingspunt deur die persoon wat die dier aanbied vir verslagting betaal.
  • ʼn Permit vir beesvleis-invoere sal R792 kos, terwyl lewendehawe-agente 0.07 persent van hul     kommissie aan heffings sal moet betaal.

Skape:

  • R0.90 per kop word vanaf die verkoper verhaal en aan die koper oorbetaal by alle transaksies.
  • R1.38 per kop word by die verslagtingspunt deur die persoon wat die dier aanbied vir  verslagting betaal.
  • ʼn Permit vir skaapvleis-invoere sal R792 kos, terwyl lewendehawe-agente 0.07 persent van hul   kommissie aan heffings sal moet betaal.

Die bogenoemde heffingsperiode sal vir vier jaar geldig wees voordat dit weer in 2015 in heroorweging geneem sal word.

WAAROM IS DIE VRYWILLIGE HEFFINGSTELSEL NOODSAAKLIK?

In ooreenstemming met die bepalinge van die Nasionale Bemarkingswet mag ʼn organisasie soos die RPO, of enige ander organisasie, nie uit statutêre fondse organisatoriese funksies befonds nie.

Die primêre produsent lewer die grootste bydrae tot die statutêre heffing en indien die produsent as lid van die NWRPO die Nasionale RPO nie finansieel bemagtig in sy moniteringstaak nie sal die betalende produsent sy seggenskap oor die omvang en aanwending van hierdie statutêre fondse verloor. Dit is uiters noodsaaklik dat die RPO namens   die produsent ʼn sterk inspraak sal hê in die Vleisbedryfsforum om toe te sien dat die statutêre fondse korrek bestuur word.

Die Vrywillige Heffing bydrae wat tans van die produsente verlang word, beloop slegs 0.15 persent van die omset by die eerste punt van verhandeling.   Verskeie krities belangrike aksies wat die NWRPO en RPO in belang van  veeboere onderneem sal eenvoudig by gebrek aan kapasiteit nie realiseer sonder die Vrywillige heffingsbydrae nie.
 
Die Vrywillige heffing word  binne die Noordwes Provinsie deur agente en abattoirs gehef en aan die NWRPO oorbetaal, wat dan weer ʼn vooraf vasgestelde bedrag aan die Nasionale RPO oordra ten einde hom in staat te stel om sy organisatoriese en administratiewe funksies te verrig.

ORGANISATORIESE EN ADMINISTRATIEWE FUNKSIES

Die volgende uiters belangrike funksies word in belang van die produsent uit die Vrywillige heffing finansier:

Administratiewe bestuur van die Provinsiale Hoofkantoor;
Reklamering van Rooivleis op plaaslike vlak;

  • Produsenteskakeling by wyse van sms-boodskappe, webwerf inligtingsbestuur, brosjures, 
  • Veeverwyderingsboekie, asook die RPO Rooivleis Tydskrif wat kwartaalliks uitgegee word;
  • Beleidsbeïnvloeding by die plaaslike regering;
  • Skakeling met departemente en veterinêre dienste rakende bv. grens- en siektebeheer; 
  • Borgskappe aan Georganiseerde Landboustrukture vir die bevordering van  Rooivleis produksie;
  • Inligtingsbyeenkomste;
  • Inisiëring van relevante plaaslike navorsingsprojekte;
  • Die bedryf van die Provinsiale Veediefstalforum;
  • Ramp- en risikobestuur tydens droogtes, brande, koue en vloede;
  • Verbruikerskakeling.

WAT WORD VAN DIE ROOIVLEISPRODUSENT VERWAG?

As primêre belanghebbende in die Rooivleisbedryf word daar van die produsent verwag om  sy finansiële bydrae te maak deur die ondersteuning van beide die Statutêre- en Vrywillige Heffingstelsel. Sodoende word kapasiteit geskep om produsente belange binne die totale waardeketting van die Rooivleisbedryf aan te spreek en die toekoms van die Rooivleisbedryf te verseker.

ROOIVLEIS IS 'N UNIEKE VOEDINGSBRON

Rooivleis as 'n voedselbron beskik oor unieke voedingseienskappe wat dit noodsaaklik maak vir goeie gesondheid.

Rooivleis is ʼn proteïne van hoë biologiese waarde en ryk aan essensiële aminosure – boustene van die liggaam se proteïene.

Rooivleis bevat proteïne van hoë biologiese waarde wat ryk is aan essensiële aminosure.(boustene van die liggaam se proteïene)

Rooivleis, met sy uitstekende aminosuurprofiel, kan die ruggraat vorm van ʼn hoë proteïen dieet vir gewigsverlies en kan ook ’n belangrike rol speel waar hergroei van spiere moet plaasvind soos vir atlete en na operasies.

Rooivleis is ʼn ryk bron van die aminosuur taurine. Taurine is ʼn essensiële aminosuur vir pasgebore babas wat tot ʼn mindere mate in staat is om dit self te sintetiseer en dit dus deur moedersmelk moet inkry. Daarom is rooivleisinname belangrik in die dieet van die borsvoedende vrou.

Rooivleis is ʼn uitstekende bron van yster, wat makliker deur die liggaam opgeneem word as dié van plantvoedsel.

Rooivleis is ook ʼn baie belangrike bron van sink wat op sy beurt ʼn belangrike mikrovoedingstof vir babas en jong kinders is.

Rooivleis is ʼn goeie bron van die anti-oksidant selenium wat ʼn beskermende funksie vervul teen koronêre hartvatsiektes en kanker.

Rooivleis is ʼn belangrike bron van ander mikrovoedingstowwe soos koper, magnesium, kobalt, fosfor, chroom en nikkel.

Rooivleis is ʼn goeie bron van die meeste B- Vitamine. B-Vitamines uit vleis is meer beskikbaar om fisiologiese funksies te verrig as dié uit plante. Vegetariërs moet Vit B12 aanvulling kry.

Rooivleis is een van die belangrikste bronne van glutatioon wat ʼn belangrike beskermingsmeganisme vorm teen gifstowwe soos aflatoksiene vanaf plante.

Bloedcholesterol word verhoog deur inname van vet en nie deur inname van maer rooivleis nie. Versadigde vette kom meestal in vetweefsel voor wat maklik afgesny kan word.

Rooivleis bevat betekenisvolle hoeveelhede poli-onversadigde vette en is ʼn ryk bron van mono-versadigde vette.

Skaap- en beesvleis bevat gekonjugeerde linoliensuur (CLA). CLA is ʼn vetsuur wat kankerwerende en cholesterol verlagende eienskappe besit en ook gewigsverlies bevorder.